Op my boekrak staan afskrifte van ‘n tesis en proefskrif waarin baie tyd belê is. Nie net my eie nie, maar ook baie ure en kundigheid van my studieleier, Dr Amanda du Plessis, sodat ek die nodigheid gevoel het om iets verder daarmee te doen.
My behoefte was om die inhoud vir die populêre lesersmark beskikbaar te stel, maar selfs voor Covid19 was die boodskap duidelik, uitgewers trek swaar, mense het gewoond geraak aan kitsinligting. Selfs my kleuter kleinkinders weet om te YouTube en Google as hulle enigiets, van stiergevegte tot by orkesinstrumente, wil bekyk.
Nietemin kry ek toe die heerlike versoek van die Christelike Lektuurfonds om ‘n kort inligtingspamflet oor rus bymekaar te stel. Dit was so lekker, twee passies – skryf en navorsing – in een aksie gekombineer. Interessant was dat die teikenmark hoërskool lesers is en dat CLF beoog om dit in verskeie tale te beskikbaar te stel. Dit het my opgewonde gemaak, want hoe jonger ons leer dat ons bedraad is om ‘n hele rusdag te hê, hoe gouer sal ons dit toepas en hoe beter sal ons die druk van die lewe hanteer.
Die verskillende wetenskappe ondersteun deurgaans die feit dat daar in die onderhouding van ‘n sewende dag rus, verskeie voordele vir die mens is. Baie van ons fisiese siklusse geskied in ‘n sewedag siklus en die wetenskap dui op beter herstel en voorkoming van uitbranding as ons hierdie ritme in ag neem. Ook emosioneel en geestelik bied ‘n rusdag – waarop ek nie eens dink aan my verpligtinge nie – die geleentheid om te herlaai. Boonop laat dit ruimte om ook sinvolle kontak te maak met mense wat vir my belangrik is. In stede daarvan om net te vra of die hond kos gekry het en hoe die referaat gegaan het, kan ons nou regtig oog- en hartkontak maak. Ek het selfs tyd hê om met myself kontak te maak, uit te vind wat ek regtig beleef.
Boonop is die geleentheid om in rustigheid in God se teenwoordigheid te sit, soos om ‘n ontwrigte gewrig weer in posisie te kry. Ek wens ek het hierdie inligting as hoërskool leerder gehad. Dalk het ek dan nie migraine op 20, ‘n maagseer op 30 en hoë bloeddruk op 40 ontwikkel nie. Dalk het ek dan beter verhoudings met mense om my, maar ook met myself en God gehad.
Nogtans is ek so bly dat ek wel die waarde hiervan op wetenskaplike wyse kon ondersoek en boonop met ‘n groep jongmense kon deel. As jy meer oor rus wil leer, kontak my!
Comments