Verslawende Selfbejammering
- Sonia Swart
- Nov 9, 2020
- 2 min read
“Nou hoeveel houe gaan die lewe my nog toedien?” vra Susan. “ My ma het haar voet geswik en Pieter dring aan op ‘n tweede dokter se mening, al het ons x-strale laat neem en het die dokter ons na ‘n fisio verwys. Ma reageer na twee weke se behandeling goed op die terapie, maar Pieter is nie tevrede nie.
Ek is so moeg om aan Pieter se eise te voldoen. Hy sit in Engeland en ek moet alleen na ons ouers omsien. En gedurig laat hy my voel niks wat ek vir hulle doen, is goed genoeg nie.”
Ek hoor dat Susan oorlaai en moedeloos voel, maar wat my veral opval, is die slagoffer lens waarmee sy na die situasie kyk. Oor die jare heen is dit die een slaggat waarin ek kliënte gereeld sien trap het. So ‘n mentaliteit is dreinerend vir die persoon self en almal om haar. Kom ons kyk na ‘n paar kenmerke van ‘n slagoffer houding.
- Susan neem nie eienaarskap en verantwoordelikheid vir haar eie behoeftes nie. Dis makliker om Pieter/die kar battery/ regering/ haar baas te blameer vir wat ookal verkeerd loop. Dis belangrik om self te verreken wat jou behoefte in ‘n situasie is en hoe om dit aan te spreek sonder om ander daarvoor verantwoordelik te hou.
- Susan sal liefs slagoffer speel en vir Pieter kwaad wees, as om nee te sê. As sy voel sy versoek om ‘n tweede dokter te gaan sien is vroegtydig en onnodig, mag sy so sê. Dalk kan sy hom verseker dat, as hul ma se voet na vier weke nie genoegsaam hertel het nie, sy ‘n tweede dokter sal raadpleeg.
- Hoewel sy ‘n suksesvolle sakevrou is, glo Susan gereeld sy is hulpeloos en magteloos teenoor ander se onredelikheid of binne bepaalde omstandighede. Onbewustelik is dit net makliker om jouself as magteloos te sien as om verantwoordelikheid vir jou eie behoeftes te aanvaar of nee te sê vir wat jy as onredelik beskou.
- Susan se slagoffer mentaliteit vergiftig haar lewensuitkyk en raaksien van ander se probleme. Dit verblind haar ook vir haar sterkpunte en die positiewe punte in haar lewe.
Neem verantwoordelikheid vir jou behoeftes. Gaan ‘n ooreenkoms met ‘n goeie vriend aan dat julle – sonder kwaadword of drama - mekaar daarop mag wys elke keer as julle in die slagoffer slaggat trap.
Are You Ready to Stop Feeling Like a Victim? Break free from the "poor me" mentality. Nancy Colier. (Posted Jan 12, 2018)
https://www.psychologytoday.com/us/blog/inviting-monkey-tea/201801/are-you-ready-stop-feeling-
victim
Comments