2020 het sy merk op ons almal gelaat.
Dis ‘n Jaar wat vir altyd onthou sal word vir ‘n pandemie wat die wereld op sy kniee gedwing het.
Niemand kon dit vryspring nie.
En die omvang wat die gevolge en impak van die pandemie het, kon niemand voorspel nie.
Daar sal nog lank gepraat word oor die effek daarvan op die wereld ekonomie, die politieke impak wat dit gehad het en steeds gaan he. Maar waarop niemand voorbereid was nie, was die emosionele impak wat iets soos grendeltyd, isolasie, kwarantyn, sosiale afstand, en die dra van maskers, op ons almal gehad het.
Ek wil egter in hierdie paar oomblikke met jou gesels oor die geestelike impak wat die jaar 2020 op ons gehad het.
Oor hoe die gebeure van 2020 moontlik jou geestelike reis beinvloed het.
Hierdie is nie iets waaroor ons maklik praat nie. Of wanneer ons daaroor praat, is daar dikwels die verwagting dat ons op ‘n sekere manier daaroor moet praat. Want gelowiges voel dikwels dat “maak nie saak wat gebeur nie, dit moet goed wees – of ten minste goed eindig”.
As ons eerlik is, sal baie van ons erken dat 2020 ‘n jaar van geestelike ontnugtering was. Vir baie het die geestelike reis nie geloop soos wat verwag is nie.
As dit is hoe jy voel, wil ek jou daaraan herinner dat die soeke na 'n nuwe geestelike weg meestal gebore word uit die harde stampe van pyn, ontnugtering en verwarring.
Dink maar aan Jakob – op ‘n plek van absolute verlatenheid waar hy besig is om weg te vlug van sy familie, ontmoet Hy weer vir God...
En Josef in ‘n tronk in ‘n vreemde land ontdek iets nuuts oor homself en God...
En ‘n Samaritaanse vrou wat in die middel van die dag gaan waterskep om tien teen een die skinderstories en oë van veroordeling van ander vroue te vermy, vind vir Jesus...
En dan is daar die dissipels aan die einde van die boek Matteus wat Jesus vir ‘n laaste keer by die Olyfberg ontmoet. Dit is na die opstanding. Jesus het reeds meer as eenkeer aan hulle verskyn. Hierdie dissipels was die ooggetuies van ongelooflike gebeure. En dan lees ons die verstommende woorde... Wanneer Jesus hier ‘n laaste keer voor sy dissipels staan, lees ons dat party hom aanbid het, en party het getwyfel...
Na alles wat hulle gesien het, het party nog steeds getwyfel...
Twyfel.
Geloofskrisis.
Ons almal ken dit.
Ons eerste reaksie is gewoonlik om die krisis te probeer vermy.
Wanneer die twyfel en vrae kom, is dit makliker om dit onder die mat in te vee en te probeer ignoreer. En ons val terug op antwoorde wat nog altyd gewerk het.
Maar dan kom die dag dat die Bybelversie wat nog altyd getroos het net nie meer sin maak nie. Die antwoord wat nog altyd die die onrustigheid in jou stilgemaak het, het sy krag verloor.
Dit is op hierdie punt, met alle ontsnappingsroetes geblokkeer, dat ons gereed is om aan 'n alternatiewe manier te begin dink, wat ons begin ondersoek, en opnuut vra wat dit is waarin ons glo...
Ek wil jou daarom uitdaag om as die vrae en onsekerheid kom, dit nie te ignoreer nie. Moenie dit probeer systap nie. Die pad van groei gaan deur die pyn van onsekerheid, swaarkry, twyfel...
Dit is wat Jesus vir ons kom modelleer het... Opstanding kom na die sterwe.
Dit is wat in die skepping ingebou is... dag kom na nag... lente kom na winter...
Ek weet dat hierdie pad van twyfel en onsekerheid nie maklik is nie.
Ek wil jou daarom uitnooi om my te kontak as jy wil gesels oor jou geestelike reis. Ek reis graag saam met jou. Nie om antwoorde te gee nie. Maar om saam te leer en te ontdek. Want een ding weet ek...
daar is altyd weer lig na die donker nag...
Ook na ‘n jaar soos 2020.
Comments