Ek het in die week wat verby is die fliek “The Woman King” gekyk.
En daar is soveel gemengde emosies in my persoonlike refleksie op die fliek.
Daar is die kwaad vir die onreg oor alle vorme van slawerny.
En die bewondering vir die moed van hierdie vroue wat opstaan teen die onreg.
Maar aan die einde sit ek met ‘n diep ontsteltenis.
Want in 2023 het daar eintlik nog niks verander nie.
Ja, ons het gevorder met die minder maak van slawerny.
Maar ons is nog steeds vasgevang in die siklus van geweld.
Iewers diep in ons samelewings glo ons nog steeds dat geweld die vryheid sal bring waarna ons almal verlang.
Dit is by die teoloog Walter Wink wat ek die eerste keer gehoor het van “The myth of redemptive violence”.
Die oortuiging dat geweld red,
dat oorlog vrede bring,
dat mag kan regmaak wat verkeerd is.
Hierdie oortuiging is so deel van ons elke dag se funksionering, dat dit blyk om nie mities te wees nie.
Geweld is eenvoudig die manier hoe dinge hier werk.
Dit is onvermydelik, die laaste en, dikwels, die enigste uitweg in konflikte.
So dink die baas wat op sy werkgewer skree.
So dink die ma wat haar kind straf.
So dink die politieke leier wat toestemming gee vir die bomme om te val.
So dink die man wat sy vrou voor die kinders verkleineer.
So dink die een wat met oordeel op 'n Facebook inskrywing reageer.
Terwyl ek nadink oor die fliek en al sy vorme van geweld wat op die skerm uitspeel, dink ek aan Jesus se spiritualiteit van geweldloosheid. En ek dink weer oor die dramatiese kontras wat die Saligsprekinge bied teen ons kultuur van geweld.
Wanneer ek om my kyk, sien ek my eie kultuur se anti-saligsprekinge (Lees Jesus the Rebel by John Dear wat aangrypend oor die anti- saligsprekinge skryf).
‘n Kultuur waarvan ek deel is en waaraan ek ook deelneem.
‘n Kultuur wat begin by die basiese reël: “Geseënd is die rykes; die heerskappy van die wêreld is ons s'n.” (Teenoor: Geseend is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele- Mt 5:3).
Die rykes regeer die wêreld; die armes word armer.
Dit is ou nuus.
En tog blyk dit dat ons steeds vasgevang bly in 'n kultuur wat ons in ‘n drukgang plaas om geld en besittings, mag en aansien na te jaag.
Ten koste van ander.
En wat ons dikwels nie besef nie, ten koste van onsself.
En dan gaan die anti-saligsprekinge voort…
“Geseënd is dié wat ander laat treur,” verkondig die nasies. (Teenoor: Geseend is die wat treur, want hulle sal vertroos word – Mt5:4).
“Geseënd is dié wat doodslaan; wat moord ondersteun; wat oorlog voer; wat belasting betaal vir moord; wat toelaat dat kernwapens bestaan; wat die moord op mense wat ter dood veroordeel is, wettig.”
Met ander woorde, "geseënd is die wat nie treur nie."
Geseend is die wat geweld as uitweg kies om probleme op te los, al bring dit trane...
En so leef ons daagliks binne “the myth of redemptive violence”.
Maar daar is nie iets soos verlossende geweld nie.
Geweld red nie.
Geweld vernietig op beide kort en lang termyn.
Jesus het 'n streep getrek deur die mite van verlossende geweld met 'n lewe van “compassionate suffering”. Hy het vir ons kom wys hoe om die geweld van hierdie wereld te absorbeer en jou daardeur te laat transformeer, eerder as om ander met geweld te kruisig.
As jy wil saam gesels oor hoe om met deernis met jouself en die om jou te kan leef, en so uit te breek uit die siklus van “redemptive violence”, kontak my. Ek bied in-persoon en aanlyn kursusse aan om jou te help om in al jou verhoudinge (in jou huwelik, met jou kinders, in die werksplek) met groter deernis te kan leef.
Comments