(Deel 3 moet saam met deel 1 en 2 gelees word)
Ons reis weswaarts is ‘n reis die donkerte in.
Die onbekende.
Vol onsekerheid.
‘n Reis waarop jy ontdek dat dit wat jy nog altyd geglo het, net nie meer sin maak nie.
Soms voel dit asof die donkerte jou gaan oorweldig.
En jy wonder: Gaan daar ooit weer lig wees?
‘n Joodse rabbi is op ‘n dag deur sy studente gevra: “Rabbi, hoe weet mens die nag is verby? Wat is die eerste tekens van ‘n nuwe dag?”
En soos ‘n goeie Rabbi het hy die vraag omgedraai terug na sy studente: “Wat sê julle? Hoe weet mens die nag is verby?”
Een van die studente het versigtig geantwoord: “Wanneer jy in die donkerte twee diere langs mekaar sien staan, kan jy nog nie sien watter een is die hond en watter een is die skaap nie. Die oomblik as jy die skaap van die hond kan onderskei, dan het die dag gebreek.”
‘n Ander student het geantwoord: “Wanneer jy in die donkerte twee bome langs mekaar sien staan, kan jy nog nie sien watter boom is die olyfboom en watter een is die vyeboom nie. Die oomblik wanneer jy die twee bome van mekaar kan onderskei, dan het die dag gebreek.”
Die rabbi het na hulle geluister en geantwoord: “Daar is waarheid in wat julle sê. Julle het goed geantwoord.”
Maar die studente was nie tevrede nie. Hulle wou ‘n antwoord van die rabbi hê: “Rabbi, sê vir ons wat jy dink – hoe weet ons wanneer ‘n nuwe dag gebreek het? Hoe weet ons die nag is verby?”
Na ‘n lang stilte het die rabbi geantwoord: “Wanneer jy in die oë van ‘n ander persoon kyk, en jy kan daardie persoon sien/erken as ‘n broer of ‘n suster, dan is die nag verby, dan het ‘n nuwe dag begin…”
Wanneer ons nog praat van ons en hulle, is dit nog nag.
Wanneer my vooroordele mense in boksies plaas en etikette omhang, is dit nog nag.
Wanneer ek nie kan luister nie en net my eie saak bepraat, is dit nog nag.
Dan sien ek nog nie in die oë van die ander ‘n broer of ‘n suster nie.
Lank gelede het ‘n ander rabbi ‘n storie vertel van ‘n man wat op reis, (dalk ook weswaarts), deur rowers oorval is en vir dood langs die pad gelos is.
Vir hierdie man het dit nag geword.
Gelukkig vir hom het ‘n godsdienstige man wat in die tempel werk daar by hom verby gekom. Vir seker sou hierdie godsdienstige man hom as ‘n broer kan sien.
Maar dit gebeur nie. Hy stap verby.
En dit bly nag.
So ook ‘n tweede persoon wat in die tempel werk. Die stap ook verby.
Hoekom?
Want godsdiens maak ons nie vry om ‘n ander as ‘n broer of suster te sien nie.
Godsdiens lê ons aan bande.
Ons lees ons Boek en ons weet wie is in of uit, rein of onrein, gered of ongered, goed of sleg…
En daarom stap ons verby.
Ons kan nie die ander as ‘n broer of suster erken nie.
Nie voordat “hulle” soos “ons” is nie.
En so hou godsdiens ons in die donker.
En dit bly nag.
Vir die een wat langs die pad in donkerte lê.
Vir die een wat verbystap.
Vir ‘n wêreld wat wag smag na die breek van ‘n nuwe dag.
Gelukkig eindig die rabbi se storie nie hier nie.
Die blyk tog of die reis Weswaarts ander mootlikhede kan oopsluit.
Want jy daar in die donker langs die pad lê, alleen, bang, onseker, lyk die wêreld anders.
En as iemand in daardie moment langs jou kniel om jou uit die donker gat te help, is daardie iemand jou beste vriend, jou broer of jou suster – maak nie saak van watter land, ras, taal, geloof hy of sy is nie!
Kan jy dit raaksien?
Die donker nag, die reis weswaarts, laat ons anders dink en kyk. Die onsekerheid en die onbekende, die donkerte om ons stroop ons op soveel maniere.
Verseker het jy gedink die godsdienstige Priester en Leviet sou jou kon help!
Maar nou kyk jy in die oë van ‘n Samaritaan, ‘n vyand, en jy sien ‘n broer!
Wie sou dit kon glo?
En skielik is die eerste tekens van die lig daar.
Miskien is dit hoekom ons nie moet ophou om die pad Weswaarts te loop nie.
Al is die pad vol donker. Onserkeid.
Want die ervaring van lê in ‘n donker sloot, omring deur donkerte, bang en onseker, gestroop van alles, kan maak dat jy vir die eerste keer ‘n broer of suster kan raaksien.
Dit maak dat jy op ‘n nuwe manier n mense kyk.
Dit maak dat jy iemand in die oë kan kyk en ‘n broer of ‘n suster raaksien.
En as dit gebeur, is dit die begin van ‘n nuwe dag.
En as dit gebeur, is daar tog hoop.
Vir Suid Afrika.
Vir Afghanistan.
Vir hierdie wereld.
Comentários