In die verhaal van Markus is die See van Galilea ‘n skeiding, ‘n grens wat oorgesteek moet word.
Aan die Westekant het jy die veilige wereld van Judaisme. Die wêreld wat ons nog altyd geken het.
Aan die Oostekant is die vreemde, onbekende wereld van die heidene. Die wêreld wat ons nog altyd gevrees het.
By drie geleenthede meld Markus dat Jesus sy dissipels oor die See van Galilea stuur na 'die ander kant', na die onbekende, die heidense kant.
En op elkeen van die reise oor die See van Galilea - na die anderkant - is daar ‘n ernstige uitdaging wat hulle bedreig.
Die see van Galilea.
‘n Plek van oorgang.
‘n Plek van ongemak.
‘n Plek van konfrontasie.
Moenie dink die dissipels op die boot het nie die See van Galilea geken nie. Hulle was vissermanne. Hulle het baie op die see gevaar. Hulle het baie vis in daardie see gevang.
Maar nog nooit het hulle die See van Galilea gebruik om na die oorkant, die anderkant, die onbekende te vaar nie.
Dit was vir hulle onbekende waters.
Daar is iets in ons wat wil bly by wat ons ken. Hier waar ons tuis is.
Maar kan ons dit bekostig?
Kan die dissipels bekostig om in hulle bekende wêreld te bly?
‘n Wêreld wat wat verdeel is tussen rein en onrein. ‘n Wereld waarbinne mense wat nie die reinheidstoets slaag nie, uitgestoot en verag word. ‘n Wereld waarin die vreemdeling agterdogtig aangekyk word. ‘n Wereld waar daar ‘n oorkant is wat onsekerheid en vrees en agterdog wek. ‘n Wêreld wat verdeel word tussen “ons” en “hulle.”
Jesus dink nie so nie. En daarom sê Hy...”Vaar na die oorkant...”
Wat van ons? Kan ons dit bekostig om in ons bekende wêreld te bly?
‘n Wêreld gekenmerk deur ongelykheid, verdrukking, geweld. ‘n Wereld waarin die rykes net ryker word en die armes armer. ‘n Wereld waarin die aarde kreun onder die vergrype van die mens.
Miskien is dit vir ons ook tyd om oor te vaar na die oorkant.
Is dit dalk wat besig is om met ons te gebeur?
Want die vaar na die oorkant kom nie sonder uitdagings nie.
‘n Storm lê en wag.
Want sien, ons kan nie met al ons bagasie van die wereld wat ons agterlaat die nuwe wereld aan die “oorkant” ingaan nie.
Ons kan nie ”aan die oorkant” as dieselfde mense opdaag en net aangaan soos altyd nie.
En daarom is daar ‘n storm.
‘n Storm wat ons ontbloot.
Skielik is ons weerloos. Ons het geen beheer nie. Dit maak nie saak wat my salaris is nie. Dit maak nie saak wat my posisie in die maatskappy is nie. Dit maak nie saak wat my adres is nie. Dit maak nie saak watse paspoort ek dra nie.
Die storm kan ek nie keer nie.
Die storm kan ek nie beheer nie.
En so ontbloot die storm my eie weerloosheid.
My selfsug. My eie geregtigheid.
Dalk is ek nie so belangrik as wat ek altyd gedink het nie.
En dan kom die vrees.
Die paniek!
Die veg om jou lewe te behou.
Jy skree. Eers bevele om die boot op koers te hou.
Maar dan begin jy skree om hulp. Enige iemand!
Want vandag in hierdie storm gaan jy sterf...
En eers in daardie oomblik wat jy jou eie dood in die oe kyk, kan jy hoor en sien wat jy tot nou toe nie kon hoor en sien nie.
... wat baat dit as jy die hele wereld oorwin maar jou eie siel skade lei...
... as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, kan dit nie vrugte bring nie...
Eers in daardie oomblik kan jy sien.
Jouself.
Jou vals self.
Met al sy maskers.
‘n Self wat moet sterf
En eers dan sien jy: Jesus is in die boot.
In die storm.
En Jesus maak die storm stil.
Dit is die deel van die verhaal waarheen ons gewoonlik spring.
As ons maar net genoeg geloof kan hê sodat Jesus die storm kan stil.
Ons almal verlang na ‘n God iewers daar buite wat die regte goed sal doen as ek net reg glo en reg bid.
Ons almal verlang na ‘n God wat die storms wat hier om my woed kan stil sodat ek kan aangaan met my lewe.
Maar wat daarvan as hierdie vertelling nie daaroor gaan om genoeg geloof te hê sodat Jesus die storm kan stil nie?
Dat hierdie vertelling eintlik oor die storm gaan.
En wat in die storm gebeur.
Met jou.
Volgens die Markus vertelling het Jesus sy dissipels ‘n tweede keer opdrag gegee om na die oorkant te gaan.
En kan jy raai wat ‘n gebeur ‘n tweede keer op die see van Galilea na die oorkant?
Weer ‘n storm. Sterk wind. Groot golwe.
Heel nag veg die dissipels teen wind en see.
Teen dagbreek is hulle moeg geveg. Moeg baklei.
Die pad na die oorkant kom nie sonder pyn nie.
En dan sien die dissipels ‘n spook. Is dit dalk die moegheid wat sy tol eis?
Maar daar is dit weer.
‘n Figuur kom oor die onstuimige water na hulle toe aangestap. .
Hulle begin skree.
En weer ‘n keer, oppad na die anderkant, kyk die dissipels die hulle eie dood in die oë.
En dan hoor hulle die stem: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”
En nog ‘n keer ontdek hulle: Jesus in die storm.
Dit is dieselfde patroon. Dieselfde patroon wat ons oor en oor in ons eie lewens sien.
‘n Patroon van orientasie (order), disorientasie (disorder), herorientasie (re-order)
Lewe. Sterwe. Opstanding.
Ons noem dit ook bekering.
‘n Nuwe manier van kyk.
Na jouself.
Na God.
Na jou wereld.
En as dit gebeur, wie weet wat wag vir ons aan die anderkant van die storm?
Comments