Ons land brand.
En ek lees die boek Openbaring.
En ek wonder...
Oor die dier.
En die lam.
Ek lees van die mag van die dier – polities en ekonomies (Openbaring 13)
En van die propaganda wat seker maak dat alles en almal voor die dier buig, of anders…
En ek lees van die Lam. Wat Johannes eers dink is ‘n leeu! (Lees Openbaring 5)
En ek lees van die volgelinge van die Lam.
Die selfopofferende liefde.
En hoe dit lei na ‘n Nuwe Jerusalem.
En ek wonder? Wat gebeur as daar verwarring kom tussen die lam en die leeu en die dier?
Dit het al gebeur…
Israel word verlos uit slawerny.
Vanuit Egipte. Dit was 400 jaar van swaarkry.
En dan kom daar verlossing deur die bloed van ‘n lam aan ‘n deurkosyn.
En vir hierdie volk word gese: Onthou waarvandaan julle kom… Daarom (Gaan lees onder andere Deuteronomium):
- Versorg die armes
- Versorg die vreemdelinge
- Versorg die weduwees en weeskinders
- Bou ritmes van rus in… elke 7de dag, elke 7de jaar…
- Moenie julle vergryp nie – daar is genoeg vir almal.
Vir die koning van Israel word gese:
- Bly weg van Egipte.
- Moenie baie perde koop nie (perde is vir oorlog).
- Moenie baie vrouens he nie.
Aan Israel wat kom uit slawerny word voorgehou ‘n lewe van opofferende liefde.
Die lewe van die Lam.
En dan kom koning Salomo.
1 Konings vertel ons:
- Hy het baie vrouens, onder ander die dogter van die koning van Egipte.
- Hy het baie rykdom – jaarlikse inkomste van 23 ton goud
- Hy het 14 000 strydwaens en 12 000 ruiters gehad. Perde is uit Egipte ingevoer.
En nou bou Salomo ‘n tempel vir God.
Met slawe.
Hy bou in Hasor, Megiddo en Geser.
Militere basisse.
Met slawe.
Hy is die nuwe Farao.
Die lam word ‘n dier
‘n Leeu.
Met skrikwekkende gevolge.
Oorlog.
Ballingskap.
En ek wonder oor Kolonialisme.
En oor apartheid.
Oor wanneer hulle wat genoem word volgeling van die Lam die leeu word…
Terug by Openbaring.
En Armageddon.
Oorlog.
Geweld.
Dood.
Is dit hoe die einde van die pad lyk?
Is dit waarop alles afstuur?
Ook vir Suid Afrika?
Of gebeur dit wanneer ons die Lam met die leeu verwar?
Kan dit wees dat die volgelinge van die Lam eerder verlang na ‘n dier, soos 'n leeu?
Eerder hoop vir ‘n ruiter op ‘n witperd en ‘n swaard in die hand wat miljoene doodmaak?
Wat eerder hoop dat die selfopofferende Lam in die Johannes evangelie die geweldadige leeu word wat veroordeel en vernietig in Openbaring?
Maar is dit wat Openbaring ons vertel?
Kyk mooi!
Die ruiter op dit witperd is alreeds in bloed deurdrenk voor die stryd begin.
Die ruiter op die witperd het nie ‘n swaard in sy hand, maar in sy mond.
Die ruiter op die wit perd is die geslagte Lam,
Nie ‘n leeu wat kom om ander te slag nie!
Die Lam oorwin deur selfopofferende liefde
(Openbaring verwys 28 keer na Jesus as die Lam – slegs een keer ‘n verwysing dat die Lam kom uit die stam van Juda, die Leeu van Juda)
Die oorlog van die Lam lyk niks soos die oorlog van die Dier nie.
Die Lam is nie soos die Keiser nie; Hy voer nie oorlog soos die Keiser nie.
In 'n gevalle wêreld verslaaf aan geweld en oorlog glo ons dit nie,
maar die volgelinge van die Lam doen... of moet!
Ons het die keuse: Die pad na Armageddon of die pad na ‘n Nuwe Jerusalem.
Ook nou hier in Suid Afrika!
Ons kan kies.
Die pad van die dier.
Die bou en beskerming van sisteme wat ons oorvloed beskerm.
Wat bou op die rug van slawe.
Wat meer en meer geld spandeer op militere vestings om jou oorvloed te beskerm.
Of ons kan kies die pad van die Lam.
Wat met selfopofferende liefde teen die sisteem gaan.
Wat beteken dit vir ons in Suid Afrika? Vandag?
Dalk om net vir ‘n begin, om daar waar jy is, te kies om te bou aan ‘n nuwe Jerusalem.
En nie Armageddon nie.
Luister na die pyn om jou.
Ook in jou.
En kies vir liefde.
Weer en weer.
Die boek Openbaring is nie waar die goeie nuus van die evangelie op ‘n slagveld sterf nie.
Die boek Openbaring is waar die goeie nuus van die evangelie sy mees kreatiewe uitdrukking vind.
Deur geïnspireerde beelde waag die skrywer om 'n wêreld voor te stel waar die nagmerrie van eindelose oorloe uiteindelik swig voor die vreedsame heerskappy van die Lam.
En ek, vir een, glo in die visioen wat Johannes gesien het.
Ook vir Suid Afrika!
(Hierdie is nie ‘n oproep tot passiwiteit nie. Om te kies teen geweld in ‘n tyd van geweld vra moed. Thomas Merton skryf, "Nie-geweld (non violence) impliseer 'n soort dapperheid veel anders as geweld." Ons moet nog baie hier oor dink en leer. Ons dualistiese denke maak dat ons dit wat verkeerd om ons is, net in prentjies van swart en wit (reg en verkeerd) kan sien. En die enigste oplossing wat ons het is om dat dit wat ons as boos/verkeerd sien, met geweld uit te skakel.
Om te kies teen geweld, aan die ander kant, kom van 'n bewustheid dat my reaksie is net so deel van die probleem. Ek kan nie die ander vernietig sonder om myself te vernietig nie. Ek moet my vyand omhels net soveel as wat ek my eie skaduwee moet verwelkom. Beide dade vra moed. Hieroor skryf ek ‘n volgende keer…)
コメント