top of page
Home: Blog2

Subscribe

Home: Subscribe
Open Hands

Contact

Home: Contact
Writer's pictureLouwrens Scheepers

Hemelvaart: Opgevaar of Weggevaar?


Hemelvaart.


Dit is een van daardie dae op die Christelike kalender wat maklik ongesiens by ons verbygaan.


Want wat is hierdie hemelvaart nou eintlik? Hoe moet mens dit verstaan, wat nog van verduidelik?

Iets soos dat Jesus na sy opstanding opgelig is in die hemel in waar Hy nou iewers saam met God is tot Hy eendag weer terugkom?


Kom ons wees eerlik. Soms voel mens doodgewoon ongemaklik en selfs effe verleë met die hele idee dat Jesus liggaamlik weg is.


Dan troos ons onsself.


Jesus is weg, maar ons het darem die kerk, die Gees, die Bybel. Dit is genoeg om ons te laat uithou en aanhou totdat Hy eendag weer kom.


Maar as dit is hoe ons dink, is dit ‘n baie arm en beperkte manier van verstaan van wie Jesus is en waar Hy nou is.


Die opvaarding van Jesus was nie die wegvaarding van Jesus nie.

n Opgevaarde Jesus beteken nie ‘n afwesige Jesus nie.


As ons in Handelinge hoor dat ‘n wolk Jesus weggeneem het, dan moet ons nie dink dat Hy van een fisieke plek na ‘n ander fisieke plek weggeneem is nie – bo of buite of waar ook al.

Nee. Hy is in die onsigbare dimensie van God self opgeneem.

Dit word uitgedruk met die wolk,

die simbool van God se onsigbare teenwoordigheid,

wat Jesus uit die dissipels se sig uit laat verdwyn het.

Jesus is dus in God se teenwoordigheid opgeneem,

vanwaar Hy op ‘n ander manier teenwoordig is.

Wanneer ons bely dat Jesus opgevaar het en sit aan die regterhand van God,

het dit nie te doen met ‘n fisiese plek iewers in die hemelruim nie.

Nee! Dit is ‘n poëtiese uitdrukking om te se dat God gee nou aan die opgestane Christus alle outoriteit!


Hemelvaart kan ons dus nie net ongesiens laat verbygaan nie.

Hemelvaart is nie die weggaan van Jesus nie.


As ons die evangelieverhaal van Jesus beëindig deur te sê:

“En dan het Jesus hemel toe gegaan (dit is waarom hy nie hier is nie), maar eendag sal hy terugkom en die koninkryk van God bring ...”

dan gee ons aan die eenkant onsself,

en leiers in die wêreld,

die reg om ons eie lewens en die wêreld te bestuur soos ons wil in die veronderstelde afwesigheid van Christus.

Aan die anderkant kan ons by onsself dink dat ons kan wel hard probeer om anders te leef,

maar tot Jesus eendag weer terugkom,

moet ons eintlik maar net probeer uithou vir die beste.

Wanneer ons so dink, beroof ons Jesus van sy gesag en heerskappy hier en nou.

Ons plaas Jesus as’t ware in ballingskap tot Hy eendag terugkom, om dan regtig te kom heers.


Nee!


Die hemelvaart is opvaar, maar nie wegvaar nie!

Hemelvaart beteken: Jesus is Here.

Hier en nou.

Nie Here iewers op ander plek in die hemel nie.

Nie Here - eendag wanneer Hy terugkeer nie.


Nee!


Hemelvaart is ‘n herinnering aan die kerk dat Jesus Christus nou die Here, die Koning is!

Die evangelie van Jesus Christus is dat die Koninkryk van God gekom het. Die opstanding en hemelvaart van Jesus Christus bevestig dit. En daarom kan en moet die kerk weer sy plek inneem as liggaam van Christus.


Soos wat die kerk in Handelinge dit gedoen en beleef het.

  • Met die groot toesprake op Pinksterdag en die oortuigingswerk van die Gees, is dit die Christus self wat mense byvoeg by die gemeente; Lukas getuig daarvan, omdat dit die enigste manier is om reg te laat geskied aan die groot aantal wat tot bekering kom – Hand 2.

  • Wanneer Stefanus sy toespraak hou en die boodskap van Jesus aan die Jode verkondig, en hulle hul ore toedruk en Hom stenig, is dit Jesus wat Stefanus in die geopende hemel sien – Hand 7.

  • Wanneer Saulus soos ‘n besetene te kere gaan en die dissipels van Jesus vervolg, is dit Jesus self wat aan hom verskyn op die pad na Damaskus en hom tot bekering lei – Hand 9.

  • En wanneer Petrus die grense begin verskuif en in Judea begin werk, is dit Jesus wat Eneas gesond maak, soos Lukas baie duidelik skrywe – Hand 9:32-35.

Maar wat van ons vandag?

  • Wanneer Drakenstein gemeente 20 pakkies kos aflewer aan ‘n families wat honger is, dan beleef hulle dit as Jesus wat gebede beantwoord en vir hulle sorg.

  • En wanneer jy die foon optel en die oproep maak of whatsapp stuur aan ‘n vriend/vriendin wat alleen is, dan word dit beleef as Jesus het my nie vergeet nie.

  • En daardie keer wat jy die bedelaar by die verkeerslig met menswaardigheid hanteer het, het hy iets van Jesus beleef.

Christus het opgevaar, maar Hy is nie afwesig nie.

Christus wag nie iewers vir sy heerskappy om te begin nie. Hy heers nou reeds vanaf die regterhand van God.

Christus is nie ver weg nie. Hy is altyd by ons.

Christus is nie geskei van ons nie. Hy vul alles en oral om ons met Homself.


Hier en nou.


(Gedagte vir die blog geinspireer deur 'n preek van Brian Zahnd: https://brianzahnd.com/)

120 views0 comments

Recent Posts

See All

コメント


bottom of page