top of page
Home: Blog2

Subscribe

Home: Subscribe
Open Hands

Contact

Home: Contact
Writer's pictureLouwrens Scheepers

In watter optog is jy?


Dit is die jaar 30nC.

Dit is lente.

Dit is die begin van die Joodse Paasfees. En Jerusalem skud sy vere reg.

Maar hierdie jaar se Paasfees is anders. Dit word ingelei met twee optogte.

Een uit die Ooste.

En een uit die Weste.


Die lesers van die Markus evangelie was bekend met die optog uit die Weste. Elke jaar met Paasfees het die goeweneur van Judea en Samaria gekom om die Joodse Paasfees by te woon. Nie uit eerbied vir die Joodse fees nie. Maar om seker te maak wet en orde word gehandhaaf. Die jaar was geen uitsondering nie.



Uit die Weste het Pontius Pilatus gekom.

‘n Intog in die stad met mag en vertoon. ‘n Visuele uitbeelding van keiserlike mag: blink perde, voet soldate, baniere, wapens wat glinster in die sonlig. Die stad word gevul met die klank van soldate se voete op die pad, leer bande wat kraak, metaal wat teen mekaar stamp en die ritmiese geklank van dromme. Soos die prosessie deur die strate beweeg laat dit ‘n ligte stoflaag hang.

Omstanders drom in die strate saam om te staan en kyk.

Party in verwondering.

Ander nuuskierig.

Ander bang.


Pilatus se intog in Jerusalem was nie net ‘n tentoonsteeling van die Romeinse mag nie. Dit was ook ‘n uitbeelding van die Romeinse ryk se ideologie. ‘n Ideologie, of dalk teologie, waarvolgens die Romeinse keiser nie net die heerser oor die Romeinse ryk nie was nie. Hy was ook die Seun van God. Dit het met Keiser Augustus begin. Inskripsies wat na die keiser verwys as “seun van God”, “here”, “redder”, die een wat “vrede op aarde” bring.


Terwyl die keiserlike magsvertoon vanuit die Weste van die stad gebeur, is daar ook ‘n intog in Jerusalem vanuit die Ooste.

Geen perde.

Geen soldate.

Geen magsvertoon.

Die is wel ‘n fyn beplande optog. Reelings word vooraf getref om alles gereed te kry. Ook die tyd van die intog.


Pontius Pilatus, goeweneur en verteenwoordiger van die magtige Romeinse Ryk vanuit die Weste.

En Jesus van Naseret, vanuit die Ooste, op ‘n donkie.

Jesus se intog kom van die Olyfberg die stad binne. Daar is ook ‘n entoesiastiese skare in die strate.

Volgelinge.

Nuuskieriges.

Hoopvolles.

Opportuniste.

Miskien kan hierdie man tog ‘n einde bring aan die Romeinse oorheersing.

Klere en palmtakke word voor Jesus en sy donkie in die straat uitgegooi. Oral word uitroepe gehoor:

“Prys Hom wat in die Naam van die Here kom!

Geseend is ons voorvader Dawid se koninkryk wat aan die kom is!

Prys Hom in die hoogste hemel!”

Die omstanders weet. Hierdie is woorde van die profeet Sagaria. En Hy het vertel van ‘n koning wat sal kom om vrede tussen al die nasies te bring. Hierdie koning wat ry op ‘n donkie, sal oorlog uit die land verdryf – geen meer strydwaens, oorlogsperde, pyl en boë. Hy sal wees ‘n koning van vrede.


Pontius Pilatus vanuit die Weste.

Jesus van Naseret uit die Ooste.

Almal weet.

Ook ons wat terugkyk.

Hierdie Paasfees in Jerusalem stuur af op een groot konfrontasie.

Pontius Pilatus en die magtige Romeinse Ryk.

Jesus van Naseret en die koms van God se koninkryk.

Die een kom vanuit die Weste met millitere magsvertoon.

Die ander een kom vanuit die Ooste op ‘n donkie.

Om deel van die Romeinse ryk te wees is ‘n pad van mag, beheer, gemak, oorheersing.

Om ‘n volgeling van Jesus te wees is om Jerusalem in te gaan, die dominante sisteem van die dag te konfronteer, en te weet dat dood en opstanding deel van jou lewe word.


Twee prosessies het daardie dag Jerusalem binne gegaan.


Dieselfde vraag, dieselfde alternatief, is daar vir volgelinge van Jesus vandag.

In watter prosessie is jy?

In watter een wil jy wees?

In die dominante sisteem? Of die een wat die sisteem uitdaag en konfronteer?

Die een van mag, oorheersing en gemak? Of die een wat lei na ‘n kruis?

Dit is die vraag van Palmsondag en die week wat voor ons ontvou…

Dit is die keuse vir elke dag.

Elke verhouding.

Kies jy vir mag? Vir beheer? Vir oorheersing?

Of kies jy om jou lewe neer te le. Vir vergifnis. Vir dien.

Vir liefde.

Die een optog kies vir geweld. Selfs geweld om vrede te bring.

Die ander pad kies vir geen wapens. Geen geweld.

Dit is nie ‘n pad waarop jy toelaat dat ander op jou trap nie.

Inteendeel. Dit is ‘n pad wat uitdaag.

Dit is ‘n pad waar jou wapens die van vergifnis en dien is.

Dit is die pad waar jy glo liefde sal wen.

Wat ookal die prys.


So wat kies jy?

In watter optog bevind jy jouself?

Dit is die vraag van Palm Sondag.

38 views0 comments

Recent Posts

See All

Comentarios


bottom of page