Ons is vasgevang in ‘n grot. Vasgebind met kettings. Van geboorte af.
Die enigste lig wat ons het is ‘n vuur wat van agter ons brand. Rondom ons is flikkerende skadus teen die muur van voorwerpe wat deur mense in die lug gehou word.
Flikkerende skaduwees.
Dit is al wat ons kan sien. Ons ken niks anders nie. Dit is ons werklikheid.
En so sal dit bly.
Tensy iemand kom en die kettings breek en ons vanuit die donkerte in die lig kan lei.
Dit is Plato se allegorie vir die toestand waarin die mens hom bevind, geskryf 400 jaar voor die geboorte van Jesus.
Nou die storie oor Jesus se geboorte ken ons. Josef en Maria op reis van Nasaret na Betlehem vir die groot volkstelling uitgeroep deur Keiser Augustus.
Betlehem.
Die geboorte plek van koning Dawid. Die geboorteplek volgens die profeet Miga van ‘n koning selfs groter as Dawid – ‘n koning wie se vredesryk die hele aarde sal vul en wie ‘n einde aan oorlog en geweld sal bring (Miga 4:1-5; 5:2-5).
‘n Duisend jaar na Dawid en 700 jaar na Miga, is Josef en swanger Maria oppad na Betlehem. Maar die dorpie loop oor van besoekers. Slaapplek is min. En Maria gaan in kraam. Uiteindelik kry hulle plek agter ‘n huis, in ‘n stal vir diere. Volgens sommige oorleweringe was hierdie blyplek vir diere ‘n soort grot. En die pasgebore kind word neergele in ‘n krip, die voerplek vir diere.
Jesus word gebore… in ‘n grot!
Oor die grasvelde van Betlehem kan die engele hul vreugde nie keer nie en roep uit: Moenie bang wees nie! Want hier is goeie nuus! Hier is rede vir groot blydskap! Vandag in die stad van Dawid is vir julle ‘n Verlosser gebore, Christus die Here!
Moenie bang wees nie. Die wereld se ware koning is gebore in Plato se grot – in jou en my grot!
Die donker grot waarin ons nog van altyd vasgevang is.
Die grot met sy leuens. Oor God. Oor my naaste. Oor myself.
Die grot met sy Farao’s en Keisers.
Die grot waar ons bang is vir mekaar.
Die grot waar ons mekaar veroordeel. Mekaar in kampe jaag. Mekaar vermoor met woord en daad.
Die grot waarin ek vasgevang is met al my vrese. Die grot met sy drogbeelde teen die muur.
Selfs daar waar bietjie hoop wil deurkom, ontdek ek dit is net ‘n skadu teen ‘n muur…
Hierdie grot het jou woonplek geword.
Dit is jou werklikheid.
Jy ken geen pad uit nie.
En dan, skielik, is die engel daar.
Moenie bang wees nie! Hier is die goeie nuus! Hier is iets om oor bly te wees.
En dit is bedoel vir almal wat vasgevang is in die grot.
Jesus word in die grot gebore.
Hy word God. Met. Ons.
Maar Sy koninkryk is nie van die grot nie.
Hy regeer nie soos Farao, koning Herodus, Keiser Augustus, Donald Trump of Cyril Ramaphosa nie.
Hy regeer nie uit vrees en of met lee beloftes nie.
Hy bring nie ‘n nuwe godsdiens nie.
Sy koninkryk is nie net skadus teen ‘n muur nie.
Jesus word gebore in die grot om ons uit die grot te lei.
Weg van die kettings.
Weg van die leuens.
Weg van al die vrese.
Weg van al die donker skaduwees.
Terug na die lig van God.
Daarom, moenie bang wees nie! Hierdie is goeie nuus! Hierdie is rede vir groot blydskap! Jesus Christus is gebore!
Besef jy dat jy hier voor 'n keuse tot staan kom?
Gaan jy in die grot bly?
Met al sy vals gode.
Met jou vals self.
Met die skadus teen die muur.
Daar is nou ‘n pad uit.
Die wereld word nie meer regeer deur leeus en buffels en monsters nie. Daar is nou ‘n Lam.
In die strate van Betlehem word daar gefluister en dit kring al hoe verder uit. Keiser Augustus is nie die here nie, Jesus is!
Kom!
Natuurlik kan jy kies om in die grot te bly.
Vir altyd.
Met al sy beloftes en illusies soos skadus teen die muur. Met sy Farao’s en koninkryke gebou op geweld. Met die vingerwys, in kampe jaag en altyd ‘n sondebok soek mentaliteit.
Ja, jy kan kies om te bly.
Dit is tog wat jy ken.
Maar jy hoef nie te bly nie!
In Betlehem word ‘n kind gebore.
Jesus, die Christus!
En hy kan jou lei na die ewige lig van God se liefde.
Dit is nie ‘n maklike pad nie. Dit is nie ‘n pad vol antwoorde en sekerhede nie.
Soms gaan hierdie pad na lig deur ‘n donker dal van doodskaduwees.
Maar moenie bang wees nie. So kondig die engel aan.
Dit is goeie nuus.
Vir almal!
Daarom!
Kom ons gooi die kettings af.
Kom ons loop saam uit die grot!!
Ek hoop ek ontmoet jou iewers op hierdie reis vanuit die grot na die lig.
Geseende Kersfees!
コメント