Dit is so moelik om ‘n storie regtig te kan geniet as jy die einde reeds ken. Dit is soos om vir die soveelste keer vir dieselfde ou grappie weer te lag. Dit lag net nie meer so lekker nie…
Dit is een van die uitdagings wat ons het met Bybelstories. Ons ken die stories so goed. En omdat ons die einde van die stories ken, is dit moeilik vir ons om met die emosies van hartseer, teleurstelling, vrees en wanhoop in die stories te identifiseer.
Ons weet dat die reus Goliat voor Dawid gaan swig.
Ons weet die leeus gaan met toegesluite bekke na Daniel kyk.
Ons weet Jona gaan die donker nag in ‘n vis se maag oorleef.
Ons ken die stories.
En so is dit ook met die verhaal van die twee oppad na Emmaus. As die twee figure moedeloos die pad tussen Jerusalem en Emmaus aanpak, dan hoor ons van hulle teleurstelling . Ons lees die woorde… “en ons het so gehoop… “ Maar dit is nie so maklik vir ons om met hulle gevoel van teleurstelling te identifiseer nie. Want ons ken die einde van die storie.
Die meeste van ons ken hierdie Emmaus pad. Dalk is dit die pad waarop jy nou is. Jy stap weg van dit waarop jy gehoop het. Die twee Emmausgangers was eintlik oppad Jerusalem toe. In die verhale wat Lukas vir ons vertel is alles en almal oppad Jerusalem toe. Jerusalem is veronderstel op die eindpunt te wees. Dit is veronderstel om die hoogtepunt te wees. Maar nou word daar weg van Jerusalem gestap. Jerusalem het teleurgestel. Dit het nie gegee waarvoor daar gehoop is nie.
En so stap die Emmausgangers weg van Jerusalem.
Vandag ook. Vir baie verskillende redes. Vir baie het die kerk teleurgestel. Ons het so gehoop… maar die Christendom projek het vir baie nie so goed uitgedraai nie. Die groot poging om ‘n beter wereld te skep deur die kerk en staat wat hande gevat het, het toe so anders uitgedraai. En tog het ons so gehoop…
Die reenboog nasie het toe ook nie gewerk nie. Ons het so gehoop, maar politieke opportunisite, misdaad, korrupsie en ‘n groeiende rassisme het die droom verongeluk.
Van oral oor hoor ons die stemme.
Ons het so gehoop… kom dit van modernisme…
En ons het gehoop… sê kapitalisme…
Ja,ons het gehoop… kom dit van kommunisme…
Ons het gehoop… sê liberalisme…
Maar al wat ons om ons sien is ‘n wereld wat knak onder besoedeling… armoede… rassisme… oorlog…
En tog het ons so gehoop. Ons stap saam met die twee figure die sowat 12km na Emmaus.
Weg van Jerusalem.
En jy stap saam, want jy het ook so gehoop.
En dan, skielik, asof van nêrens, is daar iemand saam met hulle op die pad. ‘n Vreemdeling. Hulle ken die man nie. Of ten minste, hulle herken hom nie.
En nou is daar drie figure wat wegstap van Jerusalem.
Die vreemdeling stel hom nie self voor nie.
Hy kondig nie aan wie hy is nie.
Hy probeer nie antwoorde gee nie.
Hy stap net saam.
Hy luister.
Dit is asof die twee oppad na Emmaus amper nie eers bewus is daarvan dat ‘n derde person by hulle aangesluit het nie.
En dan vra die vreemdeling: “Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar bespreek?”
Die vraag gaan nie in die lug verlore nie. Nee, die vraag word gehoor … “met somber gesigte het hulle gaan staan…”
Die vraag bring hulle tot stilstand. Miskien omdat dit hulle op daardie oomblik in voeling bring met die intensiteit van hulle eie pyn.
En dan praat hulle weer. Hulle vertel van hulle hoop en verwagtinge. Dit kan in een sin saam gevat word: Ons was so seker dat Jesus die een sou wees wat Israel sou verlos.
En in die een sit lê die gevaar.
Dat ons hoop geplaas word op ‘n Jesus wat vir ons gekom het.
Hy is aan ons kant.
Hy is teen die Romeine.
Hy is teen die korrupte Herodus.
En so eis almal Jesus vir hulleself op.
Hy is vir die Afrikaners.
Of is dit nou vir die Amerikaners?
Of dalk die Zulus?
Hy is beslis nie vir Islam of Isis nie. Ook nie vir homseksueles nie.
Of so dink ons.
Ons lees die Skrif. Die wet en die profete. En dit versterk ons in ons saak. Ons weet presies aan wie se kant God is en aan wie se kant Hy nie is nie. En ons lees die tekens. En ons kondig aan: dit is tyd. It is time! Jesus het gekom vir ons! Laat ons optrek na Jerusalem!
En so beland ons saam op die Emmaus pad. Ontnugter.
Jerusalem het die Emmausgangers teleurgestel. Hulle eie verstaan van die wet en profete het hulle op ‘n dwaalspoor gebring. En nou loop hulle weg van Jerusalem … en dit terwyl hulle so gehoop het…
As hulle aan die einde van die pad kom, het die Emmausgangers ook begin om te luister na wat die vreemdeling wat saam met hulle stap sê. En hulle wil meer hoor. Buitendien is dit gevaarlik om alleen verder op die pad te gaan. So Hy word as gas ingenooi. En hulle gaan sit aan by die tafel.
En dan neem die gas die rol van gasheer in. Hy neem die brood, seen dit en breek dit. Dit is al iets wat hierdie gasheer voorheen gedoen het. Die dag met die baie mense wat moes kos kry het hy ook die stukkie brood gevat, gebid en dit gebreek. En so ook daardie laaste keer saam met sy dissipels in die bovertrek. Presies dieselfde. Die brood. Die seen. En dan word dit gebreek…
En die oomblik as die Emmausgangers sien hoe word die brood gebreek, gebeur daar iets. Hulle sien wat hulle tot nou toe nie kon gesien het nie. Die vreemdeling saam met hulle is die opgestane Christus!
En dan, nog voor hulle iets kan doen of sê, is hy weg.
En al wat oorbly is die twee reisigers, die Skrifte en gebreekte brood.
Dit waarop die Emmausgangers gehoop het, het so anders gelyk.
Hulle het so gehoop op ‘n koning vir Israel.
Hulle het so gehoop op ‘n Romeinse Ryk wat verslaan word.
Maar nou gestroop van alles ontdek hulle nuwe betekenis in die Woord, en hulle ontvang die gebreekte brood. En dan kan hulle sien.
Vir ‘n oomblik.
Ons wil so graag die pad anders hê.
Ons droom en hoop steed op bevryding deur politieke mag. Ons gebruik steeds die Skrifte, die wet en die profete, om mense in kampe te jaag oor wie “in” en wie “uit” is. Van verhoë en preekstoele word aankondigings gemaak, word namens God gepraat. Want ons kan mos sien.
En ons het hoop en verlang en bid dat dit sal uitwerk soos ons dit sien.
Maar die Emmaus pad leer ons iets anders. Om die opgestane Christus te sien is ‘n pad van ontnugtering. Van onsekerhede. Soms ‘n pad van teleurstelling en totale wanhoop. Die opgestane Christus maak sy verskyning aan 2 reisigers gestroop van alles. Geen klank sisteme of tv kameras. Geen massa byeenkoms. Geen aankondigings.
Net 2 gestrooptes.
En die Woord.
En gebreekte brood.
Goeie nuus!