Ons wêreld is siek.
En dit is nie net van die Cocid 19 virus nie.
Dit het ‘n ander naam. Eintlik baie ander name.
Rassisme.
Ongelykheid.
Diskriminasie.
Wit bevoorregting.
White supremacy.
Die oorsprong van die virus is nie in China of iewers in Afrika of in Europa of in die Amerikas nie.
Dit begin in die mens se hart. Dit is aansteeklik.
En ‘n masker dra gaan jou nie beskerm nie.
Die virus versprei stadig. Dit kan jare vat voor jy die draer daarvan word.
Maar as dit eers posvat, werk dit vernietigend.
Dit is dodelik.
Vir jou.
Maar veral vir die “ander”, vir “hulle”.
Ek het ook die virus gekry. En ek kan net my eie storie van siek word vertel.
Alhoewel die simptome eers later in my lewe begin wys het, is ek as kind aan die virus blootgestel. Ek vermoed dit het by my begin met ‘n samelewing wat my geleer het van “ons” en “hulle”.
“Hulle” het altyd ‘n eie beker en bord in die kas onder die kombuiswasbak gehad en nooit saam met ons geëet nie
“Hulle” het nooit by die voordeur geklop nie, altyd by die agterdeur, en het nooit saam met ons gekuier nie.
“Hulle”het nooit ons badkamers gebruik of in ons huis geslaap nie.
Dit is nie dat ek die virus noodwendig by my pa en ma opgetel het nie. Inteendeel - by hulle het ek baie geleer oor respek vir alle mense.
Maar dit is die probleem met die virus.
Dit kruip orals in. Alles en almal word besmet.
In ons dorp het “hulle” nie in ons woonbuurtes gebly nie en kon “hulle” nie beweeg waar en wanneer “hulle” wou nie.
“Hulle” het in die lokasie gebly.
“Hulle”het ook nie saam met “ons” skool gegaan nie.
In die grootmens gesprekke het ons kinders gehoor hoe vertel word van ‘n ongeluk waarin mense dood is. En dan was daar die verligting in die vertrek as dit darem nie van “ons” was nie. Natuurlik was dit subtiel – byna onsigbaar – soos die virus.
“Hulle” het ook nooit in ons kerk gekom nie. Ek kan wel stories onthou van “ons” moet “hulle” net bekeer - maar jy moet dan ook net onthou jy kan “hulle” uit die bos haal maar nooit die bos uit “hulle” nie.
“Hulle” is nie eintlik op televisie gesien nie. Net as daar betogings en moeilikheid was.
In die weermag is ons geleer dat “hulle” ons vyand is en ons onsself teen “hulle” moet beskerm.
En voor ek myself kon kry, het die die virus in my sy kop begin uitsteek.
Die simptome het in my eie lewe begin wys.
Maar dit is maklik om die virus en sy simptome te ignoreer.
En net hier is nog ‘n probleem met die virus. Kom ek probeer verduidelik.
Die siekte het ‘n manier om ‘n hele groep mense te besmet. Sonder dat “ons” dit besef begin almal in die groep dieselfde simptome wys, en dit word die nuwe normaal. En jy dink nooit aan “ons” as siek nie. Inteendeel, dit gaan dan so goed met “ons”! “Ons” is so geseën!!
Iewers in die proses begin die virus sy dodelike werk doen. Net soos in ‘n “science-fiction movie”. “Ons” wat hierdie virus dra blyk gesond te wees. Maar die gevolge van die virus slaan bollemakiesie en tref ander… tref “hulle”… met vernedering, disrespek, verontregting, ongelykheid, diskriminasie en die dood.
En te veel kere ‘n brutale dood…
Ek was op Universiteit toe ek begin besef het dat ek die virus onder lede het en in ‘n samelewing woon wat besmet is met die virus. Ek kon vir die eerste keer iets begin sien van wat die verskriklike gevolge van die virus is.
Ek het begin soek na maniere oor hoe ek van die virus kan ontslae raak.
Ek het eers myself probeer verontskuldig. As kind het ek tog nie geweet wat aangaan nie. Dit is alles die Apartheidsregering se skuld. Die kerk van daardie tyd se skuld. Hulle het my mislei.
Maar die virus het bly kleef.
Ek het begin sê ek is kleurblind en ek is nie ‘n rassis nie. Om die braaivleisvure sou ek selfs standpunt teen rassisme inneem.
Maar die virus het bly kleef.
Ek het besef praat alleen help nie. Ek het begin soek na geleenthede om te kyk wat ek kan doen om “hulle” te help. Wat kan ek vanuit my bevoorregte “ons” posisie vir “hulle” doen.
Ek het beter gevoel.
Maar die virus het bly kleef.
Op ‘n dag het ek begin agterkom hoe kwaad “hulle” vir “ons” is. Hoe kwaad “hulle”vir my as blanke man is.
Ek het gevoel dit is onregverdig. Ek het dan probeer opstaan teen rassisme. Ek sê mos ek is kleurblind. Ek help altyd waar ek kan.
Ek het begin om soos die slagoffer te voel.
En toe begin ek stilbly.
Ek kyk.
Ek luister.
Maar ek sê niks nie.
Ek weet nie wat om te sê nie. En as daar iets is om te sê, weet ek nie hoe om dit te sê nie.
En toe kom Covid 19.
En om my sien ek die ongelykheid. Die onreg.
Ek hoor die stemme roep om asem soos die sisteem “hulle” vasdruk teen die grond.
Ek wil wegkyk. My ore toe druk.
Maar dan gebeur Collins Xhosa sommer hier by ons.
En George Floyd in Amerika.
En iets breek los.
In Amerika.
In my.
En ek weet. Ek mag nie meer stilbly nie.
Die virus wat ek dra maak nie net ander dood nie. Dit vernietig ook vir my.
Die vernietig ons wêreld.
Ek besef opnuut dat ek alles in my vermoë moet doen om die virus te veg. Dit gaan om lewe en dood.
En dit begin by my.
In my eie hart.
Ek sal daarom elke dag my eie gesindheid, gedagtes en dade ondersoek en my aandeel erken in die verskriklike ongelykheid in hierdie land. Ek besef dat ek deel is van ‘n sisteem wat mense plat druk teen die grond terwyl hulle uitroep om net te kan asemhaal.
Ek sal elke moontlike manier ondersoek en gebruik om die sisteem te ontbloot en te beveg.
Ek sal elke dag doelbewus my eie plek van gemak verlaat en soek na maniere om solidariteit te betoon met hulle wat slagoffers is van ‘n stelsel en struktuur wat mens plat druk teen die grond.
Maar ek sal ophou om myself te sien as die wit ridder op die perd wat “hulle” moet gaan red.
Ek kies om die opstand en kwaad wat in geweld oorkook, nie te veroordeel nie, maar met empatie en deernis te beantwoord.
Ek sal alles doen om die “ons” en “hulle” mentaliteit wat mure van afstand, suspisie en vrees bou, af te breek.
‘n Streep is in die sand getrek.
Die virus in my eie lewe moet met woord en daad beveg word.
Maar na al die geskryf bly hierdie ook net woorde op papier.
Maar mag dit iewers ‘n vlam aansteek: Een vol dade van liefde.
God help my.
God help ons.
Baie om oor na te dink L
Wonder stellig of ons nie met die virus gebore word nie ? Dalk “erfsonde”
Die Seun maak vry om lief te hê
#Ican’tbreathe oor soveel gebrokenheid in ons eie samelewing
Dankie vir jou storie Lourens. Ek dink menigte van ons het dieselfde storie. As almal net by die punt kan kom, soos jy op universiteit, dat ons die foute in ons storie raaksien en dan wat ons kan om ons eie "default" te verander. Dit verg nie net woorde nie, maar ook dade en nogmaals dade, soos ek weet jy ook doen