top of page
Home: Blog2

Subscribe

Home: Subscribe
Open Hands

Contact

Home: Contact
Writer's pictureLouwrens Scheepers

Trek jy Oos of Wes? (Deel 2)

(Deel 2 moet asb. saam met deel 1 gelees word)


Die Abrahamsreis Weswaarts, die onbekende in, is nie net ‘n reis van onsekerhede nie.

Dit is nie net ‘n pad van donkerte nie.

Dit is meer.

Dit is ook om op daardie plek te kom waar jy besef dat dit wat jy nog altyd geglo het, net nie meer vir jou werk nie.


Saulus van Tarsus was ‘n briljante jongman. Een van die beste studente onder Gamaliël, die bekende leermeester van die wet van Moses.

Maar Saulus was ook passievol. As Fariseër het hy geleef vir dit wat hy geglo het. En een ding wat Saulus geglo het, was dat hierdie nuwe beweging wat ontstaan het rondom Jesus van Nasaret, onmiddelik gestop moet word.

Saulus was seker. Jesus is nie die Messias nie!

En hy het sy bybelverse gereed gehad. Dalk nog Deuteronomium 21:23…”want wie aan ‘n paal opgehang word, is deur God vervloek…”


Jy sien hoe dit werk.

Jy het jou waarheid waarvan jy seker is.

Jy kry jou Bybelvers.

En dan begin jy jou veldtog.

“En Saulus het soos ‘n besetene voortgegaan om die volgelinge van die Here met die dood te dreig.” (Handelinge 9:1)

Vreemd wat hierdie soort sekerheid kan doen.

Godsdienstige sekerheid.

Dit kan jou hard maak.

Selfs wreed.

Met ‘n Bybelvers in die hand.


Maar dan verander alles.

Saulus is oppad na Damaskus.

Met sy Bybelverse. Die toestemmingsbriewe.

Die waarheid.

En dan skielik!

‘n Stem. ‘n Skerp lig.

En Saulus lê plat op die grond. Blind.

Die man wat Jerusalem vol sekerheid verlaat het, kom Damaskus blind en gestroop binne.

Dit is donker.

Hy kan nie self sy pad vind nie.

Dit is nie net ‘n fisiese donkerte nie.

Alles wat hy tot op hierdie punt geglo het, is nou net een groot vraagteken.

Saulus bevind hom op die pad Weswaarts.


Ons wil graag glo dat groei, ook groei in ons geloof, kom om van die een sekerheid na die volgende te beweeg.

Maar dan op ‘n dag is daar ‘n stem. ‘n Lig.

Dit kom op verskillende maniere oor ons pad.

Covid19.

Kanker.

Egskeiding.

Bankrotskap.

Teleurstellings.

Dood.


En skielik is dit donker.


Jy is van niks meer seker nie.

Al die ou antwoorde wat nog altyd getroos het klink leeg, sonder betekenis.

Jy weet nie of jy kan terug Ooswaarts na die ou sekerhede toe nie.

Maar Wes? Wat wag daar?


En jy bevind jouself in hierdie niemandsland.

Tusssen niks en nêrens.

Alleen.


Dit is hoe groei in jou geloof begin.

In die donker.

Vra maar vir Saulus met al sy godsdienstige passie, sy oortuiging om te veg vir sy waarheid.

Vra maar vir die voortvarende Petrus wat so vinnig sy swaard uitruk om sy waarheid te verdedig.

Vra maar vir Maria wat daardie Sondagmore vroeg in die donker in ‘n tuin voor ‘n graf sit en huil.


As dit is waar jy jou bevind – jy is nie alleen nie.

Dit is wat dit beteken om Weswaarts te trek.

Om die onsekerheid te erken.

Om die angstigheid wat die donkerte bring te erken.

Om te kan sê ek weet nie.


Dit begin alles in die donker.

Dit vra van jou om die donkerte in te stap, na die plek van ek weet nie meer nie.

Weswaarts!

Het die apostel Paulus dan nie gesê ons lewe deur geloof, nie deur sien nie (2 Kor 5:7).


108 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page