top of page
Home: Blog2

Subscribe

Home: Subscribe
Open Hands

Contact

Home: Contact
Writer's pictureLouwrens Scheepers

Trek jy Oos of Wes? Dit is tyd om te besluit.

5 God het die lig toe “dag” genoem, en die donker het Hy “nag” genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag (Genesis 1:5).

In die Bybel begin die nuwe dag nie met die opkoms van die son nie.

Elke nuwe dag begin wanneer dit aand geword het. [1]

Dit begin in die donkerte.

Maar is dit net ‘n nuwe dag wat so begin?


Dink byvoorbeeld aan Abraham.

Hy kry ‘n openbaring. God roep hom om te trek van wat hy ken ‘n nuwe toekoms in.

En Abraham begin trek.


Weswaarts.


Tot nou toe het almal Oos getrek.

Adam en Eva kan nie langer in die Paradys nie en hulle beweeg Oos van Eden (Genesis 3)

Nadat Kain sy broer Abel vermoor het, gaan vestig hy in Nod, Oos van Eden (Genesis 4)

Na die groot vloed, trek die mens Ooswaarts tot by die vlakte van Sinar (Genesis 10).

En hier, vol sekerheid, glo die mens hy kan soos God wees, en bou die Toring van Babel.


Maar Abraham trek Wes.

Om wes te trek, is om te beweeg na waar die son ondergaan.

Dit is ‘n reis die donkerte in.

Abraham se nuwe begin, sy nuwe roeping, begin nie met ‘n duidelike padkaart oor waarheen nie.

Dit begin nie met sekerheid oor wat volgende gaan gebeur nie.

Dit begin met ‘n reis die donkerte in.


Kan dit ook waar wees vir jou en my?

Dat ‘n nuwe dag, ‘n nuwe begin, 'n nuwe roeping, in die donker begin.

Alles in my wil daarteen stry.

Ek wil eerder beweeg van lig na lig na nog meer lig.

Alles in my wil oos beweeg. Weg van die donker!

Ek wil seker wees.

Ek wil kan sien!


En dan kom Covid 19.


En die wêreld wat ons nog altyd geken het, verander.

Oornag.

En niks is meer seker nie.

Nie my gesondheid nie.

Nie my werk nie.

Ook nie die veiligheid van die mense naby aan my nie.

Gewone lewensritmes word versteur.

My elke dag se bewegins word bewerk.

Ek dra ‘n masker.

En die donkerte raak al hoe meer.

Ek kan nie meer die lig voor in die pad sien nie.


En nou het ek ‘n keuse.

Ek kan omdraai.

Oos!

Terug na ‘n wereld soos ek dit geken het.

Terug na ou sekerhede.

Ek kan die donkerte probeer afmaak as nie waar nie.

Maar kan dit ook wees dat ek soos Abraham geroep word om ‘n wêreld wat ek geken het, te verlaat?


Om Weswaarts te trek.

Om die onsekerheid te erken.

Om die angstigheid wat die donkerte bring te erken.

Om te kan sê ek weet nie.

Kan dit wees dat ek, ons, aan die begin staan van ‘n nuwe dag, ‘n nuwe begin?

Maar dit begin in die donker.


Dit vra om die donkerte in te stap.

Weswaarts!


Het die apostel Paulus dan nie gesê ons lewe deur geloof, nie deur sien nie (2 Kor 5:7).

[1] Die Joodse Sabbat begin nie met sonsopkoms die Saterdagoggend nie, of om middernag nie. Dit begin met sonsondergang die Vrydag met die viering van die Shabbat.

210 views1 comment

Recent Posts

See All

1 Comment


dcoetsee
Jul 05, 2021

Baie waardevolle perspektief, Louwrens, en ek stem saam dat ons nie kan terug nie. Al wil ek so graag weer by die vleispotte van 2019 gaan sit, is dit nie die toekoms nie. (Interessant, Num 14 vertel hoe die volk 'Wes' wou trek, terug Egipte toe, nadat God gese het hulle moet 'Oos', Kanaan toe. Weens hulle opstandigheid beveel God toe hulle moet 'Suid', die woestyn in... toe voeter hulle 'Noord'!)

Like
bottom of page