Ons almal doen dit. Veral wanneer ons in ‘n hoek is.
Onseker.
Bang.
Kwaad.
Ons soek die sondebok.
Iemand moet die skuld dra.
Iemand moet aangekla word.
Iemand moet betaal.
En daarom blameer ons.
Ons stoot weg.
Ons gooi die klippe.
Want iewers hoop ons dit sal help met die kwaad en die pyn oor die onreg wat in ons harte brand.
Dit is wat in Johannes 8 en 9 gebeur.
Jesus is by die tempel. Vroegoggend al. Om die mense te leer van die Koninkryk van God. God se alternatiewe manier van leef in ‘n donker wêreld.
‘n Oproerige skare kom gooi ‘n vrou voor Jesus se voete neer. Sy is op heterdaad betrap in die daad van owerspel.
Wat sê Jesus moet hulle met die vrou doen?
Hulle soek nie regtig ‘n antwoord nie. Hulle boek gee die antwoord:
Blameer haar!
Stoot haar uit!
Gooi haar met klippe dood!
Maar Jesus sê niks. Hy buk af en skryf met sy vinger in die grond.
Die skare raak onrustig. Hulle soek ‘n antwoord.
Dan kyk Jesus op en sê: Laat die een wat sonder sonde is die eerste klip optel en gooi…
Jesus haal die angel uit die opstandige skare.
Hy gaan nie toelaat dat reg deur geweld geskied nie.
Dit is hoe dit nog altyd gebeur het.
Die draai na geweld.
Dit is deel van die werke van die donker sê Jesus dan later in hoofstuk 8.
Maar die gesprek tussen Jesus en die Fariseers en die skare ontaard in ‘n argument. En die skare word kwaad. So kwaad dat hulle gereed is om klippe op te tel en Jesus daarmee te gooi.
En dit is hoe Johannes 8 eindig.
Johannes 8 vind plaas binne die raamwerk van twee pogings van die godsdienstige skare om iemand met klippe te gooi.
Jesus en sy dissipels loop weg van die klippe wat by die tempel gegooi word. Net buite die tempel stap hulle verby ‘n man wat al van geboorte blind is.
Rabbi, deur wie se doen is dit dat hierdie man blind is? Hy self of sy ouers?
En vir ‘n derde keer val die klippe. Nie fisies nie, maar dit kom van dieselde plek van ‘n sondebok soek:
- Die vrou het gesondig, laat die klippe val…
- Jesus is ‘n vals profeet, laat die klippe val…
- Die man is blind, laat die klippe val…
Die bose impuls, die bose reaksie, is om altyd iemand te soek om te blameer.
Dit is die donkerte waarin ons leef. Dit is die blindheid waarmee ons rondloop.
Daarom vra die dissipels Jesus as hulle die blinde man sien: Wie se skuld is dit? Wie se fout is dit? Wie kan ons blameer vir hierdie man se blindheid? Daar moet tog iewers iemand wees wat blameer kan word, wat die skuld kan dra?!?
Maar Jesus gaan hom nie in hierdie ou debat laat intrek nie.
Hy gaan oor in aksie. Hy spoeg op die grond en maak bietjie klei aan in sy hande. En hy neem dit en smeer dit aan die oë van die blinde man.
En Jesus sê vir die blinde man: “Gaan was jou in die Siloam bad.”
En Johannes voeg by dat die naam van bad beteken: Gestuurde… die een wat gestuur is.
En so word die blinde ‘n prentjie van hoe ons met die modder in ons oë in ‘n wêreld leef van blamering, beskuldiging, klippe gooi.
Maar daar is hoop.
Die blinde man word gestuur na die bad Siloam – die een wat gestuur is.
Ons is in die donker.
Ons is blind.
Maar as ons in kontak kom met die Een wat gestuur is, die een wat ook genoem word die lig vir die wêreld, dan kan die modder uit ons oë kom. En dan besef ons die vraag wat ons nog altyd gevra het is die verkeerde een! Die vraag is nie:
Wie se skuld is dit? Wie kan ons blameer? Wie kan ons met die klippe gooi?
Die vraag is eerder: Hoe kan ons lig, liefde en die genade van God in ‘n situasie bring?
Daar is genoeg tragedies in ons wereld… in ons eie land…
- Die koronavirus
- Siektes wat die dood van mense veroorsaak
- Natuurrampe
- Die sinlose moorde …
As ons na hierdie tragedies kyk, en ons word deel van die skare wat iemand soek om te blameer,as ons gereed maak om klippe te gooi, dan is daar duidelik nog modder in ons oë!
So wat doen ons te midde van die pyn en seer van die tragedies wat hulleself om ons afspeel. Wat doen ons moet die onreg en die lyding wat dit bring?
Ons erken die tragedie vir wat dit is en wat dit bring: pyn, kwaad, bitterheid, vrees, onsekerheid…
Ons bring hierdie rou, eerlike gevoelens in die lig. Ook ons impuls om ‘n sondebok te soek en met klippe te gooi. Ons gaan daarmee na die bad van Siloam – die Een wat gestuur is… En ons gaan met ons modder. Daarom is daar iets soos vloek Psalms in die Bybel. Die Gestuurde een verstaan ons gebalde vuiste, Hy weet van die klippe in ons hande. Hy weet van ons vrees en kwaad en pyn wat alles tegelyk in ons wil oopbreuk.
Jesus, die gestuurde een, het op ‘n dag oor sy dissipels geblaas en gesê: “Soos die Vader my gestuur het, stuur ek nou vir jou…” Ek en jy is nou ook gestuurdes. Die draers van lig. En in ‘n tyd van onreg en tragedies moet ons die veilige ruimtes vir mekaar skep – ruimtes waar ons die modder uit ons oë kan was. Ruimtes waar ons eerlik teenoor mekaar kan skree, vuiste bal, lament… En as die modder uit ons oë is, dan kan ons terug na die plek van pyn en seer en tragedie. Maar dan met oop oë, dan sonder ‘n hand geklem om ‘n klip, dan met ‘n oop hand van liefde, genade, vergifnis.
In ons eie land is daar baie praatjies oor die sondebok, oor wie die skuldige is, oor wie met klippe gegooi moet word. En oral hoor ons stemme om die klippe op te tel. Dit is tyd, skree hulle.
Mag ons, as volgelinge van die Gestuurde, bereid wees om in tyd soos hierdie lig te bring, ruimtes te skep om mense se kwaad te hoor. Mag ons luister. En mag ons deur hierdie ruimtes help om lig te bring, die modder in ons oë uit te haal en draers van hoop en liefde te wees in die tragedies en onreg om ons.
Integer Netwerk Suid-Afrika wil so ‘n spasie skep.
Elke Woensdagaand om 19h30 het ons ‘n Luister Ruimte.
Hier kan jy kom met jou gebalde vuiste. Jy kan kom met jou kwaad.
En ons sal luister.
Geen advies.
Geen oordeel.
Geen ondervraging.
Net luister.
As jy meer wil weet, volg die skakel: https://www.facebook.com/Integernetworksa/
Comments