Hy is ‘n man.
Hy het ‘n naam.
Hy het ‘n posisie in die samelewing.
Hy het ‘n 12 jarige dogter wat ernstig siek is.
Sy is ‘n vrou.
Ons ken nie haar naam nie.
Sy het geen posisie in die samelewing nie.
Sy is al vir 12 jaar lank siek.
En dan daag Jesus op.
Die man met ‘n naam en posisie is eerste by Hom.
Hy het nodig dat Jesus na sy huis toe kom.
Dit is dringend.
Sy 12 jarige kind lê op sterwe.
Wat doen Jesus?
Hy gaan.
Want die kind se lewe maak saak!
Jesus beweeg saam met die belangrike man deur die dorpie se strate.
Die strate is skielik vol mense.
Almal wil Jesus sien.
Almal wil aan Hom raak.
En dan stop die prosessie.
Die belangrike man is angstig.
Hoekom stop ons? Beweeg asseblief!! My kind lê op sterwe!! Ons kan nie nou stop nie.
My kind se lewe maak saak!!!”
Maar Jesus beweeg nie.
Hy wil weet wie het aan Hom geraak.
Almal is verstom – in so ‘n straat vol mense is dit onmoontlik om te weet!!
Jesus se dissipels is verleë
Die belangrike man is kwaad.
Vergeet wie het aan wie geraak.
Kom net asseblief.
My kind se lewe maak saak!
Maar Jesus beweeg nie.
Hy wag.
Dan is daar ‘n beweging in die skare.
Skielik sien almal haar.
Die vrou sonder naam.
Die vrou sonder posisie.
Die vrou wat al vir 12 jaar lank siek is.
Sy sak voor Jesus neer.
Iets in haar breek.
12 jaar se pyn.
12 jaar se skande.
12 jaar se kwaad.
12 jaar se verwerping.
12 jaar sonder ‘n stem.
12 jaar se sistemiese uitstoot vanuit die samelewing.
En Jesus luister.
Hy kyk na haar.
Hy raak aan haar
Hy gee al sy tyd aan haar.
En voor almal:
die skare,
sy dissipels,
die belangrike man met die siek dogter,
sê Jesus: My dogter, jou lewe maak saak!
Die belangrike man draai om en stap weg.
Jesus hoef nie meer te kom nie.
Hy sien die slaaf wat van sy huis af aangehardloop kom.
Hy weet wat dit beteken.
Na alles lyk dit nou of sy dogter se lewe nie saak gemaak het nie.
Dit voel of iets in hom wil breek.
Kwaad.
Woede.
Pyn sonder woorde.
Dan voel hy ‘n hand op sy skouer.
Hy kyk om.
Dit is Jesus.
“Jairus,” sê Hy, “moenie bang wees nie, vertrou net.”
Markus 5:21-43
コメント